Die Vrystaatse premier, Sisi Ntombela, verkeer in ‘n staat van ontkenning oor die vervalle toestand van die provinsie se infrastruktuur, sy ekonomiese krisis en ontoereikende dienslewering.
Die premier het ‘n gulde geleentheid tydens haar provinsiale openingsrede gemis om die oorsake van dié probleme, soos die huidige politieke onstabiliteit, korrupsie, onbevoegde amptenary en die provinsie se hoë salarisrekening, aan te spreek.
Die premier ag die haglike toestand van die provinsie se paaie as bloot ‘n ongemak. Mense sterf egter as gevolg van hierdie omstandighede en daar word van boere verwag om paaie self te herstel.
Intussen het die Vrystaatse regering aangedui dat hy nie boere wat op eie onkoste paaie herstel, sal kan vergoed nie.
Die Vrystaat se ekonomiese krisis sal nie omgekeer word sonder die instandhouding en ontwikkeling van die provinsie se infrastruktuur nie.
Geen ondermening kan funksioneer sonder betroubare paaie, water- en elektrisiteitsvoorsiening nie. Die provinsiale regering moet daadwerklik optree om hierdie leemtes reg te stel voordat meer sake-ondernemings die provinsie verlaat.
Die premier moes vandag werkbare oplossings aangekondig het vir die voortslepende waterkrisis waar munisipaliteite waterrade miljarde rande skuld.
Al wat sy duidelik gemaak het, is dat sy en haar party vasgevang is in die toenemende gevegte binne die ANC. Dit dra by tot onstabiele munisipaliteite en provinsiale departemente wat die ANC se slagveld van faksionalisme is.
Die ANC-regering gaan sukkel om die reuse ekonomiese-, maatskaplike- en administratiewe slaggate wat hy in die provinsie geskep het, te herstel.