Die VF Plus het die openbare beskermer (OB) versoek om ondersoek in te stel na die Vrystaatse departement van polisie, paaie en vervoer se gefaalde padprojekte.
Dié departement het hofsake teen konstruksiemaatskappye wat tenders vir padprojekte ontvang het, aanhangig gemaak.
Dié kontrakteurs was nie in staat om die projekte wat aan hulle toegeken is te voltooi nie. Daar is ook gevalle waar paaie wat gebou is, substandaard is.
Die geraamde waarde van hierdie kontrakte beloop sowat R831 miljoen. Die departement poog tans om deur die regsaksie verlore fondse te herwin.
Intussen is die departement genoodsaak om van verkrygingsprosesse af te wyk om nuwe kontrakteurs aan te stel om hierdie mislukte en onvoltooide projekte te voltooi.
Terwyl die provinsie se paaie totaal vervalle is, is dit onaanvaarbaar dat die departement nie die nodige sorg aan die dag gelê het om tenders toe te ken aan kontrakteurs met bewese rekords in die voltooiing van paaie van goeie gehalte nie.
Die departement het ook daarin gefaal om die nodige deurlopende monitering van die betrokke projekte te doen.
Die VF Plus se versoek aan die OB is om die kontrolemeganismes van die departement met die toekenning van tenders te ondersoek.
Soortgelyke projekvertragings, mislukte padprojekte en litigasie, moet voorkom word.
Sommige Vrystaatse paaie is reeds as doodspaaie gebrandmerk en die provinsie kan nie enige verdere verliese met betrekking tot sy padinfrastruktuur bekostig nie.
Die VF Plus beskou die litigasiewaarde van hierdie hofsake in wese as ‘n erkenning van die departement dat hy nie staatsfondse volgens die voorskrifte van wetgewing bestuur nie.
Gemeenskappe is geregtig op dienslewering en die VF Plus sal voortgaan om te verseker dat departementele wanfunksionaliteit nie hierdie dienste verder belemmer nie.