(Begrotingsdebat in parlement: Minerale hulpbronne en energie)
Die minister van minerale hulpbronne en energie het vandag min leierskap of visie in die voortgaande ekonomiese krisis in Suid-Afrika gewys. Dit lyk meer of hy in die denkpatrone van 'n vorige era oor mynbou en energie vasgevang is. Nuwe denke in dié verband kom uit ander bronne, binne en buite die regering.
Die departement formuleer sy eie doel om die mynbousektor vir transformasie, groei en ontwikkeling te reguleer. Dit lyk egter of transformasie, veral ten gunste van 'n reeds bemagtigde "voorheen benadeeldes" voorrang geniet.
Die huidige opbloei in die kommoditeitsmark bevoordeel wel mynbou in Suid-Afrika, maar lei ook tot ernstige agteruitgang van sekere vervoerweë. Daarmee word volgehoue groei en ontwikkeling grootliks uitgeskakel.
Trouens, sommige gemeenskappe word juis benadeel. By Kromdraai in die Emalahleni-munisipale gebied ly woongebiede skade weens nabygeleë oopgroefmynbou. In Nigel (Ekurhuleni) kan inwoners binnekort met suur mynwater uit agtergelate myne gekonfronteer word weens swak regulering.
Nog 'n vraag wat rolspelers in die mynbou vra, is of die minister by die hofuitspraak sal berus, dat die Mynbouhandves slegs 'n riglyn is; en of hy gaan poog om dit in wetgewing te vervat. Dit word as 'n belangrike rede vir die agteruitgang in Suid-Afrika se aantreklikheid vir mynboubelegging beskou.
Sover dit energie aangaan, is die oorgang na 'n koolstofneutrale ekonomie wêreldwyd heelbo op die agenda. In Suid-Afrika geld dieselfde vir talle rolspelers in die private sektor, maar dit lyk of die departement aan die vorige bedeling vasklou. Daarmee word erken dat die land nog vir 'n geruime tyd van steenkool afhanklik sal wees, maar ook dat die departement versuim om die weg na 'n nuwe werklikheid aan te dui.
In sy toespraak het die minister hom weereens tot gasontginning aan die Suid-Afrikaanse kus en die skalielae van die sentrale Karoo verbind. Hy beweer dat dit kommersieel lewensvatbaar is, hoewel eksplorasie jare gelede gestaak is, sonder dat daar sekerheid was of ontginbare reserwes werklik bestaan. Die vraag ontstaan hoe die minister tot vandag se gevolgtrekking gekom het.
Terwyl Suid-Afrika se vermoë om brandstof vanuit ru-olie te raffineer jaarliks verklein, gee die departement geen duidelike beeld van waarheen Suid-Afrika op die gebied van vervoerenergie op pad is nie. Word die Europese oorgang na elektriese voertuie nagestreef, wat vloeibare brandstof naderhand oorbodig sal maak? Word beleggers gesoek om raffinaderye te behou of weer in werking te stel? Of gaan die land al meer brandstof gereed vir gebruik invoer? Hierdie vrae is nie deur die minister beantwoord nie.
In die tussentyd ly die hele land onder beurtkrag. Die minister hou kernkrag as 'n belangrike deel van die oplossing voor, maar dit lyk nie of hy tussen die regulatoriese raad vir kernkrag aan die een kant, en die raad van die entiteit wat kernkrag moet bedryf aan die ander kant, onderskei nie. Dit ondermyn vertroue in sy leierskap, selfs al kan kernkrag in die toekoms 'n belangrike rol speel.
Die energiemark in Suid-Afrika moet gedereguleer word. Die tyd van grootskaalse en gesentraliseerde kragvoorsiening is verby. Nuwe ontwikkelings in kragopwekking, sowel as elektroniese beheerstelsels, maak dit moontlik.
'n Noodsaaklike voorwaarde vir die mynbou- en energiesektore om die land se ekonomie te help herstel, is dat die departement moet regeer deur voor in die pad te kyk, liewer as in die truspieëltjie.