fbpx
Vryheidsfront Plus

Vryheid sonder verantwoordelikheid is nie vryheid nie – sonder ‘n verantwoordelike regering wag chaos

(Debat in NRP: Bevestiging van die waardes en beginsels van ons grondwetlike demokrasie)

Dit is een ding om verkies te word om te regeer, maar om verantwoordelik te regeer, is ‘n ander saak.

Suid-Afrika het stelsels in sy wetgewers en howe geskep wat gelykheid waarborg en vryheid in ‘n demokrasie gee. Die vraag bestaan egter of die fokus op vryheid die verantwoordelikheid wat daarmee gepaard gaan, ignoreer.

Die psigiater en filosoof Victor Frankl het gesê vryheid kan ontaard in bandeloosheid tensy verantwoordelikheid daarmee gepaard gaan. 'n Verantwoordelike staat is daarom belangrik vir ware demokrasie.

Indien die land se leiers nie optree op 'n manier waarop vryhede deur verantwoordelikheid beskerm word nie, is die land bestem vir chaos wat nie bekostig kan word nie. Leiers wat arrogant behep raak met hul eie vryhede, skep 'n nuwe generasie ekonomies en geestelik arm mense.

Indien leierskap misbruik maak van wat hulle as vryheid beskou en militêre vliegtuie gebruik om ANC-partylede na Zimbabwe te vervoer vir partypolitieke aangeleenthede, is dit niks minder nie as blatante magsmisbruik. Dit is nie demokrasie nie.

Indien die land se leiers die land aanhou plunder, belastingbetalersgeld steel en die sosiale verantwoordelikheid om die armes op te hef ignoreer, is Suid-Afrika inderdaad op pad om teen 2030 'n mislukte staat te word – soos voorspel deur die ekonomiese strateeg Claude Baissac en berig deur Al Jazeera.

Dit is nie demokrasie wanneer leiers nie daarin slaag om 'n samelewing met geleenthede te skep deur ekonomiese groei in 'n vryemark-samelewing nie. Hierdie leiers laat die land in die steek. Indien leiers grootpraatjies, rassespanning en geweld aanmoedig, sal Suid-Afrika uiteindelik in 'n stamstaat ontaard. Dit is nie demokrasie nie.

Wanneer 'n politieke leier mense opsweep met die woord 'aanval' en dit lei tot plundering, brandstigting en vandalisme, is die leier niks anders as 'n boef nie. Dit is nie demokrasie nie.

Boewery vermom as sosiale geregtigheid het deur die geskiedenis die slegste in die menslike natuur na vore gebring. Nazisme sowel as kommunisme het dit bewys.

Die land gaan ‘n hoë prys betaal indien sy leiers nie verantwoordelik optree nie. Daar kan nie vryheid in ‘n demokrasie wees sonder verantwoordelikheid nie. Miskien moet die ANC- en EFF-leiers verantwoordelik begin optree.

Navrae: 076 629 6219

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.