Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Vreemde Covid-19-uitgawes in Gautengse onderwysdepartement word op die VF Plus se versoek deur die onderwyskomitee ondersoek

Die VF Plus het verseker dat die onderwyskomitee van die Gauteng wetgewer ondersoek instel na die verdagte Covid-19-verwante uitgawes wat die Gautengse departement van onderwys in September aangegaan het vir die reuse bedrag van R96 miljoen. Nadat die media (Daily Maverick) verlede week oor die uitgawes berig het, het die VF Plus die komitee bewus gemaak van die vreemde aard van talle van die tenders. Gevolglik het die komitee die departement beveel om vandag die komitee se vrae oor die aangeleentheid te antwoord.

Die bedrag van R96 miljoen is uitbetaal aan 28 verskillende diensverskaffers waarvan talle lyk of dit rakmaatskappy-name het en dus waarskynlik onlangs gestig is. Talle van die maatskappye wat tenders gewen het, se name bevat die woorde "Trading" of "Consulting" wat aanduidend is van die standaardname wat in rakmaatskappye voorkom. Talle maatskappye se name kom vreemd voor vir die tipe diens wat gelewer moet word om geboue te dekontamineer.

Die departementshoof het tydens die vergadering aangedui dat al die tenders toegeken was aan maatskappye op die tender-databasis van die departement en dat daar volgens hulle dus nie enige vreemde tenders plaasgevind het nie. Hy het egter wel onderneem om al die besonderhede van die tenders aan die komitee te openbaar.

Die VF Plus het versoek dat die departement ook openbaar hoe elke tender en kontrak tot stand gekom het, wanneer elk van die diensverskaffer-maatskappye gestig is, wie hulle direkteure is en watter dienste deur elk gelewer is, asook wanneer die dienste gelewer is. Hierdie inligting is tans nie gepubliseer nie en kan help om te bepaal of enige wanadministrasie of tenderkorrupsie plaasgevind het.

Die departementshoof het onderneem om die inligting te versamel en aan die komitee voor te lê.

Die VF Plus sal aanhou druk plaas om te verseker dat hierdie kwessie behoorlik ondersoek word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.