Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Regering moet belasting verdien: ANC verdien dit nie

(Parlementêre debat: Wysigingswetsontwerp op belasting en belastingadministrasie)

Geen wet kan onbepaald ‘n vermorsing van belastinggeld befonds soos wat tans in Suid-Afrika die geval is nie en geen regering het die reg om belasting bloot in te samel nie. Dit moet verdien word.

Sonder ekonomiese groei en ‘n omgewing waarin die privaatsekor optimaal kan sake doen en werk kan skep, sal die belastingbasis toenemend krimp terwyl die maatskaplike las dienooreenkomstig sal toeneem.

Die VF Plus voorsien dat die ANC-regering hom toenemend tot desperate maatreëls sal wend om sy verpligtinge na te kom.

Die drie jaar-maatreël wat emigrante sal verhinder om pensioengeld te onttrek, is ‘n voorbeeld hiervan. Dit is ‘n desperate maatreël om mense te dwing om nie te emigreer nie. Die staat kan geen ander rede verskaf nie en daar kan geen ander sinvolle afleiding gemaak word nie.

Wat eintlik moet gebeur, is dat die regering ‘n aangename en sake-vriendelike omgewing sonder korrupsie skep waar mense tuis voel en waar hulle nie wil wegtrek nie.

Die verhoging van belasting soos aksyns sal teenproduktief wees en toekomstige ekonomiese groei erg aan bande lê deur beleggers af te skrik en eie landsburgers te verdryf.

Oorkoepelend tot alles is die waarde-effek van belasting. In Suid-Afrika kry belastingbetalers nie waarde vir hul belastingbydraes nie. Wanbesteding op alle vlakke van regering, korrupsie en verkeerde prioriteite maak dit ongedaan.

Geen wetgewing sal een jota of tittel hieraan verander nie. Soos die ANC dink partye soos die EFF klaarblyklik dat geld uit die hemel val en dat maatskappye onuitputlike geldbronne het vanwaar net meer en meer belasting geïn kan word.

Dit ontgaan hulle dat ondraaglike belasting op sake-ondernemings dit vir hulle onmoontlik maak om te groei, salarisse te betaal, of werksekerheid aan sy personeel te bied.

Die privaatsektor is tans die grootste vyand van die ANC en die EFF. Tog kan daar geen ekonomie daarsonder wees nie. Dié sektor moet daarom gekoester word en nie vertrap word nie. Geen wet kan iemand dwing om meer te gee as wat hy het nie.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.