Die voortdurende kragonderbrekings in die Merafong-plaaslike munisipaliteit (Carletonville, Fochville, Khutsong, Welverdiend, Kokosi en Wedela) kan nie langer geduld word nie en die munisipaliteit moet verantwoordelikheid aanvaar vir sy jarelange wanbestuur van dié munisipaliteit.
Die munisipaliteit het verlede Vrydag in ‘n mediaverklaring die skuld op die eerste winterkoue gepak wat glo die stabiliteit van die kragnetwerk beïnvloed. Die koue het waarskynlik kragverbruik laat toeneem, maar kragonderbrekings het reeds in die somermaande daagliks in die gebied voorgekom.
Inwoners kla gereeld op sosiale media dat hulle dae sonder elektrisiteit sit wat veroorsaak word deur verouderde kragkabels en swak onderhoud. Substasies is gereeld buite werking.
Die munisipaliteit het ‘n plig om toe te sien dat onwettige elektrisiteitkoppelings dadelik verwyder word om sodoende te verseker dat die kragnetwerk nie oorlaai word nie. In Wedela-uitbreiding 3 is inwoners sedert 26 Mei sonder elektrisiteit weens ‘n transformator-fout.
Skole in Khutsong wat gereed maak vir die hervatting van die skooljaar, is ook sonder elektrisiteit wat dit moeilik maak om aan die Covid-19-regulasies vir skole te voldoen.
Die VF Plus het reeds die Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede (Cogta), Lebogang Maile, genader om in te gryp.
Inwoners word reeds swaar getref deur die inperkingsregulasies en die voortdurende kragonderbrekings dra by tot groot verliese weens skade aan huishoudelike apparaat, kos en vars produkte wat onbruikbaar word.
Kontaknommer: 082 671 2302