Die regering se visteelprojek by Gariepdam in die Vrystaat voeg nie waarde tot die gemeenskap van die Xhariep distriksmunisipaliteit nie en faal klaaglik in sy doel.
Hierdie is nog ‘n bewys, soos die vele ander landbouprojekte wat deur die regering van stapel gestuur is en gefaal het, dat die ANC-regering net eenvoudig nie daartoe in staat is om volhoubare bestuur toe te pas of waarde vir die gemeenskap van die Vrystaat toe te voeg nie.
Die projek is in 2012 deur die nasionale departement van landbou, bosbou en visserye van begin. Dit is reeds in 2014 voltooi en is in 2017 aan die provinsiale departement van landbou oorhandig om te bestuur.
Gedurende hierdie ses jaar tydperk is die projek opgerig en met die nodige toerusting vanaf China toegerus, maar die projek genereer nie ‘n volhoubare inkomstestroom wat werklike waarde vir die gemeenskap inhou nie.
Tans onderhou die provinsiale departement van landbou die projek teen hoë koste en word ‘n klein gedeelte van die gemeenskap met vis vir voedseldoeleindes voorsien. Die projek is nie selfonderhoudend nie en bedryf dus tans teen ‘n verlies.
Die infrastruktuur en aanvanklike beplanning maak voorsiening vir behoorlike opleiding, werkskepping en volhoubare vooruitgang vir die gemeenskap. Dit vind glad nie plaas nie, aangesien slegs sowat drie lede van die gemeenskap baat vind by een of twee van die damme.
Die Chinese regering het ongeveer R46 miljoen in die projek belê waarna die nasionale departement van landbou ‘n verdere R6 miljoen belê het. Die provinsiale departement van landbou bestee ook jaarliks miljoene rand om die projek se bedryfsuitgawes te befonds. Dit is dus ‘n wit olifant wat die belastingbetaler miljoene rand kos, maar nie ten volle benut word nie. Dit laat die vraag ontstaan of die ANC-regering opkomende boere behoorlik kan bystaan as hulle nie hul huidige projekte tot voordeel van die begunstigdes kan bestuur nie.
Die VF Plus sal vrae aan die minister van landbou en aan die Vrystaatse LUR van landbou rig ten einde vas te stel wat die regering se beplanning met die projek is, asook waarom dit nie ten volle benut word nie.
Kontakbesonderhede: 082 490 6663