Die VF Plus het gister teen die Tzaneen-plaaslike munisipaliteit se konsepbegroting vir die 2025/26-finansiële jaar gestem.
Die tariefverhogings neem nie inwoners se huidige ekonomiese situasie in ag nie en is onaanvaarbaar as dit gemeet word aan die kwaliteit van dienslewering wat hulle ontvang.
Inwoners gaan gebuk onder voortslepende watertekorte en afgeleё gebiede het ná 30 jaar steeds nie toegang tot lopende water nie. Watertrokke word ten duurste na die gebiede ontplooi.
Verder word inwoners geteister met gereelde kragonderbrekings, slaggate, oorgroeide sypaadjies en rioolstortings wat dui op ʼn duidelike gebrek aan onderhoud en politieke wil om vir inwoners ʼn gunstige omgewing te skep om in te woon en werk.
Die tariefverhogings is as volg:
• Sanitasie: 4,5%
• Water: 4.4%
• Eiendomsbelasting: 5%
• Krag: 12%
Alhoewel die begroting goedgekeur is, sal die VF Plus die uitvoering daarvan noukeurig monitor om te verseker dat die inwoners van Tzaneen die dienste ontvang waarvoor hulle ten duurste betaal.


