Te midde van al die woelinge in onderwys, herinner die matriekeksamen almal waaroor dit eintlik gaan: Die opvoeding van kinders om spontane, doeltreffende volwassenes te raak wat tot die gemeenskap kan bydrae.
Die Nasionale Seniorsertifikaat, soos matriek amptelik bekendstaan, is ‘n leerder se bewys dat die skoolloopbaan suksesvol voltooi is. Dit is wel nie ‘n eindpunt nie, maar besorg mens ‘n goeie beginpunt.
Deugde soos hardwerkendheid, stiptelikheid, aanpasbaarheid en skeppendheid kan alles op skool aangeleer word. Hierdie deugde sal dalk vir die res van die lewe meer help as die leerinhoud, maar deug en kennis loop hand aan hand.
Matrikulante word aangemoedig om deeglik voor te berei, maar ook in die spanningsvolle eksamentyd na hul liggaamlike- en geestelike gesondheid om te sien.