fbpx
Vryheidsfront Plus

Sol Plaatje-waterkrisis: VF Plus se volgehoue druk begin vrug afwerp

Die VF Plus se aanhoudende druk oor Kimberley se waterkrisis begin vrug afwerp.

Kimberley in die Sol Plaatje-plaaslike munisipaliteit (ook Modderrivier en Ritchie) gaan die afgelope tyd gebuk onder erge wateronderbrekings en die VF Plus het ingegryp om die probleem op te los.

Tydens ʼn vergadering tussen die VF Plus, die munisipale bestuurder, mnr. Thapelo Matlala, en ingenieurs van die kontrakteur Bigen Africa, is die omvang van die krisis opnuut bespreek om oplossings te vind.

Sol Plaatje kan tans nie aan die aanvraag voorsien nie en opgaardamme se vlakke bly laag. Dit veroorsaak dat die krane telkens droog is.

Faktore wat ʼn bydraende rol speel is hoë temperature met gevolglike verdamping en die vyftigjaaroue suiweringsaanleg se terugspoelstelsel wat ondoeltreffend is.

Besoedeling van water wat vanuit die Vaalrivier gebruik word, het vererger en die filtreerstelsel by Riverton is nie vir die huidige vereistes van besoedeling en hoë verbruik ontwerp nie.

Weens sterk bevolkingsgroei neem verbruik ook toe. Die aanleg moet gevolglik bykans deurentyd werk en enige kragonderbreking kan ‘n tekort veroorsaak.

Mnr. Matlala erken dat kommunikasie van die munisipaliteit voorheen ‘n rooskleurige prentjie wou skets. Hulle het egter besluit om voortaan meer realisties te wees, sodat onderbrekings eerder korter is as wat aangekondig word.

ʼn Bevoegde span ingenieurs is onlangs aangestel om die suiweringsaanleg te herstel en befondsing is van die nasionale tesourie ontvang.

Die eerste stap is om druk op die aanleg te verlig deur die ouer aanleg, wat voor die huidige een aan die stad se behoeftes moes voldoen, weer in werking te stel. Dit sal opgradering van die nuwer stelsel moontlik maak.

Die VF Plus doen ʼn beroep op die gemeenskap om die munisipale span in sy werk te ondersteun. Verder vra die party dat almal intussen genoeg waterreserwes sal opbou om ‘n krisis tydens onderbrekings te voorkom.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.