Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus waarsku teen stelselmatige ineenstorting van klinieke in Boksburg

Die aanhoudende tekort aan medisyne en basiese mediese sorg by klinieke in Boksburg dui op ’n stelselmatige ineenstorting van primêre gesondheidsdienste in die Ekurhuleni-metro.

Klagtes wat die VF Plus ontvang, is nie van geïsoleerde voorvalle nie, maar deel van ’n duidelike patroon van swak bestuur, nalatigheid en ’n gebrek aan aanspreeklikheid.

Inwoners word toenemend sonder hulp weggewys, toegang tot chroniese medikasie word geweier en pasiënte ervaar ’n gebrek aan respek en menswaardigheid.

Verskeie pasiënte het aan die VF Plus gesê dat hulle bloot op administratiewe gronde, soos herhaalde afspraakdatums, van sorg uitgesluit word sonder enige mediese ondersoek om hul toestand of die dringendheid daarvan te bepaal.

Hierdie praktyk is oneties, gevaarlik en in direkte stryd met pasiënte se regte.

Klinieke sukkel intussen met ernstige tekorte aan medikasie en noodsaaklike toerusting, wat beide pasiënt en gesondheidswerker in ’n riskante situasie plaas.

Openbare klinieke bestaan om gemeenskappe te dien, veral kwesbare en werklose inwoners wat nie private gesondheidsorg kan bekostig nie.

Wanneer basiese medikasie, toerusting en menswaardige behandeling ontbreek, is die gevolge ernstig en potensieel lewensgevaarlik.

Die VF Plus neem kennis daarvan dat die burgemeesterskomiteelid vir gesondheid en sosiale ontwikkeling, Bridget Thusi, die departement opdrag gegee het om op te tree. Alhoewel hierdie erkenning verwelkom word, is dit nie genoeg om ’n gebroke stelsel reg te stel nie.

Die VF Plus doen ’n dringende beroep om:

  • ’n Omvattende ondersoek na die werking van klinieke in Boksburg.
  • Onmiddellike ingryping om tekorte aan medikasie en toerusting aan te spreek.
  • Duidelike riglyne dat geen pasiënt sonder mediese ondersoek weggewys mag word nie.
  • Toesig en gevolge waar personeeloptrede gesondheidsorg-etiek skend.
  • Deursigtige terugvoering aan gemeenskappe oor regstellende stappe wat geneem word.

Hierdie krisis is die direkte gevolg van jare se wanbestuur, swak beplanning en politieke mislukking onder ANC- en EFF-beheer in Ekurhuleni.

Die VF Plus sal voortgaan om druk toe te pas, aanspreeklikheid te eis en saam met gemeenskappe te staan wat afhanklik is van openbare gesondheidsorg.

Toegang tot gesondheidsorg is ’n grondwetlike reg en nie ’n voorreg wat afhanklik is van ’n gebroke stelsel nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.