Die VF Plus doen ’n beroep op sakelui en beleggers om duidelik standpunt in te neem teen die ANC-minister van handel, nywerheid en mededinging, Parks Tau, se beoogde SEB-fonds van R100 miljard.
Die oorspronklike doel van breëbasis-swart ekonomiese bemagtiging (BSEB) om swart Suid-Afrikaners ekonomies te bemagtig, het lankal misluk.
Onder ANC-beheer is die stelsel misbruik om ’n klein groepie miljardêrs te bevoordeel, terwyl die groter publiek armer geword het.
Prof. William Gumede van Wits-universiteit het onlangs bevestig dat BSEB hoofsaaklik elite-verryking bevorder het, met minimale impak op werkskepping, vaardigheidsontwikkeling en volhoubare groei. Die beleid het ongelykheid verdiep eerder as verlig.
Intussen het grootskaalse korrupsie en staatskaping honderde miljarde rand uit die fiskus laat verdwyn. Die ekonomie het gekrimp, werkloosheid het tot rekordvlakke gestyg, dienslewering het ineengestort en infrastruktuur het verkrummel.
Nou kondig dieselfde ANC ’n verdere R100 miljard SEB-fonds aan, met die voorstel dat maatskappye 3% van hul netto inkomste moet bydra tot ’n sogenaamde “transformasiefonds” .
In ruil daarvoor kry die maatskappye dubbel punte op die BSEB-telkaart en beter toegang tot staats- en korporatiewe verkryging.
ʼn Direksie wat die minister aanstel, sal die fonds bestuur wat ʼn resep vir politieke inmenging en korrupsie skep.
Die departement kon nie eens die Nasionale Loterykommissie effektief bestuur nie. Grootskaalse wanbesteding en korrupsie het daar aan die lig gekom.
Die sluiting van die 51 jaar oue British American Tobacco-fabriek in Heidelberg teen einde 2026, met die verlies van sowat 1 000 werksgeleenthede, lê ook direk voor die departement se deur.
Sy onvermoë om tabaksluikhandel te beheer, het veroorsaak dat die onderwêreld die bedryf oorheers, wat nie net die wettige mark vernietig het nie, maar ook miljarde rand se aksynsbelasting laat verdwyn het.
Die VF Plus is die enigste politieke party wat BSEB van dag een af verwerp het, juis omdat dit slegs ’n klein elite bevoordeel.
Slegs gesonde vryemarkbeleid kan werklike groei aanwakker, werksgeleenthede skep en alle Suid-Afrikaners ekonomies bemagtig.
Die VF Plus sal aanhou om hom te beywer om mislukte ANC-beleid en korrupsie te vervang met ’n skoon, vryemarkgedrewe alternatief wat die belange van die gemeenskap eerste stel.


