Die kragonderbrekings wat inwoners van Benoni in die Ekurhuleni-metro die afgelope vier dae teister, is onaanvaarbaar en ʼn bewys van ʼn metro wat onder wanbestuur gebuk gaan.
Verskeie woongebiede was sedert 23 en 24 Januarie sonder krag, waarna dit op 27 Januarie herstel is. Skaars drie ure daarna is inwoners weer sonder krag gelaat.
Die betrokke areas sluit in Rynfield, Northmead, MacKenziepark, Rynsoord, New Modder, Westelike-uitbreiding en Benoni se sentrale sakegebied.
Hierdie situasie dui op ’n ineenstorting van infrastruktuur wat oor jare vinnig herstel is sonder behoorlike onderhoud aan die kragnetwerk.
Die gevolg is dat inwoners en ondernemings daagliks sonder basiese dienste gelaat word, met ernstige gevolge.
Die administrasie van die metro verwys gereeld na kabeldiefstal as die oorsaak van die onderbrekings. Alhoewel kabeldiefstal ’n werklikheid is, kan dit nie langer as ’n verskoning dien vir swak bestuur, onvoldoende beveiliging van infrastruktuur en ’n gebrek aan langtermyn-oplossings nie.
Inwoners van Benoni gaan toenemend gebuk onder georganiseerde sindikate terwyl die metro versuim om daadwerklik op te tree.
Die VF Plus het in ʼn brief aan die stadsbestuurder, Kagiso Lerutla, ʼn verduideliking gevra oor die werklike oorsake vir die daaglikse kragonderbrekings in Benoni, watter stappe geneem word om infrastruktuur volhoubaar te herstel en hoe kabeldiefstal bekamp gaan word.
Inwoners verdien betroubare dienslewering, veiligheid en eerlike kommunikasie.
Die VF Plus sal voortgaan om druk toe te pas totdat daar duidelike antwoorde en werklike oplossings ontvang is.


