Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Beoogde vlak 2-waterbeperkings in Langeberg is gevolg van jare se verwaarlosing van infrastruktuur

Die VF Plus verwerp die beoogde vlak 2-waterbeperkings wat die Langeberg-plaaslike munisipaliteit (Ashton, Bonnievale, McGregor, Montagu, Robertson) vanaf 1 Februarie 2026 instel en beskou dit as totaal onnodig, teenproduktief en ’n duidelike bewys van swak beplanning en jarelange verwaarlosing van infrastruktuur.

Die munisipaliteit voer swak reënval en leë damme as rede aan, maar die werklikheid is dat die Langeberg-munisipaliteit sy water hoofsaaklik uit die Breederivier onttrek wat ’n betroubare bron is en voldoende water kan voorsien.

Die krisis spruit eerder uit ’n te klein en ontoereikende pomp by die Gumgrove-watersuiweringsaanleg wat nie genoeg water kan pomp nie asook verskeie ander pompe wat buite werking is, waaronder die Montagu-pomp wat reeds twee maande stukkend is.

Daarby kom verouderde en beskadigde waterpype wat gereeld breek en enorme waterverliese veroorsaak, terwyl geen betekenisvolle onderhoud of opgraderings die afgelope 15 jaar plaasgevind het nie, ten spyte van ingenieursverslae en aanbevelings wat sedert 2011 eenvoudig geïgnoreer is.

Noodherstelwerk wat in November 2025 begin is, is steeds onvoltooid hoofsaaklik weens wanbetaling aan kontrakteurs, ten spyte van voldoende fondse in die begroting.

Die feit dat leiwaterbeurte vir ’n week hervat is, bewys dat daar wel genoeg water beskikbaar is. Dit word bloot nie effektief na inwoners gepomp nie.

Water wat vir menslike verbruik beskikbaar is, word nou na leiwater omgelei terwyl inwoners onnodig gestraf word met beperkings soos ’n verbod op die natlei van tuine en sportvelde en boetes vir verbruik bo 15 kiloliter per maand. Selfs in gebiede soos Ashton en Montagu, wat geen watertekorte ervaar nie, geld dieselfde waterbeperkings.

Hierdie maatreëls benadeel nie net inwoners onregverdig nie, maar bedreig ook die plaaslike ekonomie ernstig, veral die landboubedryf, wynkelders en sakesektor.

Die VF Plus het reeds ’n volledige verslag met werkbare voorstelle aan die burgemeester en bestuur voorgelê, maar dit is tot dusver geïgnoreer.

Daarin eis die party dat die volgende noodmaatreëls onmiddellik in werking gestel word:

• Opgradering en vervanging van pompe waar dit nodig is om die toevoer van water te stabiliseer.
• Herstel van alle stukkende pompe wat tans buite werking is en die kapasiteit van die stelsel verswak.
• Bykomende boorgate om groter watersekerheid vir die gemeenskap te verseker.
• Onderhoudswerk aan die Dassieshoekdam en ander damme om hul betroubaarheid en kapasiteit te herstel.
• Skoonmaak van uitlaatkleppe by damme om die vloei van water te verbeter en verstoppings te voorkom.
• Uitvoering van die lank verwaarloosde ingenieursaanbevelings wat sedert 2011 op die tafel is maar nooit in werking gestel is nie.

Die VF Plus sal voortgaan om konstruktief op te tree en werkbare voorstelle op die tafel te plaas om swak diens en verval in die Langeberg te voorkom.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.