Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus vra Openbare Beskermer weer om ANC-‘advertensieborde’ in Gauteng te ondersoek

Die VF Plus het weer ‘n dringende beroep op die Openbare Beskermer (OB) gedoen om ondersoek te doen na die propagandistiese advertensieborde in ANC-kleure wat Gauteng se provinsiale regering langs paaie in die provinsie opgerig het, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.

Hierdie versoek twee weke voor die verkiesing volg na ‘n stryd wat die VF Plus reeds die afgelope vyf maande voer oor 51 reuse advertensieborde wat in dié tyd reeds meer as R10 miljoen se gratis advertensie aan die ANC besorg het.

Dr. Mulder sê die OB is reeds op 27 November verlede jaar versoek om die aangeleentheid te ondersoek.

In die skrywe aan die OB is aangevoer die borde is ’n ernstige bedreiging vir die Suid-Afrikaanse demokrasie aangesien dit miljoene rande se gratis advertensie aan die ANC besorg en daarom ’n vry en regverdige verkiesing vanjaar onmoontlik maak.

In Februarie vanjaar het die OB die VF Plus in kennis gestel dat die saak op 6 Februarie verwys is na die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK).

Op 11 Februarie het die OVK bevestig dat hulle die versoek ontvang het. Verlede maand het die OVK die VF Plus in kennis gestel dat hy nie die ‘mag of mandaat’ het om die ondersoek te doen nie en dat dit eerder terugverwys moet word na die OB.

Dr. Mulder sê die toedrag van sake is teleurstellend aangesien die ANC nou al vir maande gratis advertensie kry wat deur die belastingbetaler betaal word.

“Tot op datum het die OVK ook nog nie aan die VF Plus terugvoer gegee oor ‘n versoek op 12 Februarie vanjaar om opruiende uitsprake en opsweping tot geweld teen wit mense onder die naam van Julius Malema se EFF te ondersoek nie.

“Uit mediaberigte blyk dit dat die OVK sedert verlede jaar al verskeie klagtes oor opruiende EFF-baniere en inskrywings op die EFF se facebook-blad ontvang het, maar ook hier is nie opgetree nie.

“Ons het nou weer die OB gevra om hierdie saak, asook ander sake van onbehoorlike bevoordeling van die ANC soos die verspreiding van T-hemde, kospakkies ensovoorts wat deur staatsgeld betaal word, onverwyld te ondersoek en sodoende sy verdiende status as waghond van die Suid-Afrikaanse samelewing gestand te doen,” sê dr. Mulder.

 

 

Kontaknommers: 082 674 6670 / 083 419 5403

 

 

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.