Die VF Plus het die Gautengse LUR vir gemeenskapsveiligheid, Faith Mazibuko, versoek om die ondersoek na nege vragmotors wat verlede Donderdagaand naby Heidelberg aan die brand gesteek is, te verskerp.
Die party het dieselfde versoek gerig aan lt.genl. Elias Mawela, Gautengse polisiekommissaris, en het hom gevra dat alle hulpbronne en mannekrag ingespan word om die skuldiges vas te trek.
Vragmotors is Donderdagaand naby Heidelberg op die N3 en R103 aan die brand gesteek nadat dit tot stilstand gedwing is en met petrolbomme bestook is.
Die opsetlike beskadiging van private eiendom is onaanvaarbaar gesien in die lig van die reeds swak ekonomiese groei weens die Covid-19-inperking en die onbevoegdheid van die regering.
Die VF Plus sal voortgesette druk op die LUR en die polisiekommissaris plaas om die saak as prioriteit te beskou en sal daarop aandring dat polisie-sigbaarheid op hoofroetes verhoog word.


