Die VF Plus het die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) versoek om dringende maatreëls te tref om die veiligheid van wit, bruin en swart studente te verseker nadat ‘n groot groep studente met T-hemde van die ANC en EFF klasse ontwrig, eiendom beskadig en mede-studente aangeval en met die dood gedreig het.
Adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor hoër onderwys, sê die voorval was gister op die hoofkampus van die UWK. 'n Aantal swart studente is glo ontevrede omdat van hul mede-studente nie registrasiegeld kan betaal nie, en die protesaksie is gehou om die universiteit te dwing om die registrasiegelde af te skryf.
“Volgens ooggetuies, wat onder meer selfoon-opnames van die gebeure gemaak het, het groepe studente die hele kampus ontwrig. Van hulle het by klaskamers ingebars, op tafels gedans en van die studente se rekenaars en selfone stukkend gegooi.
“Daar was ook ten minste een voorval waar van die betogers met wit en bruin studente handgemeen geraak het en doodsdreigemente is teenoor van die wit en bruin studente gemaak.
“Die VF Plus het vanoggend verneem dat ‘n persoon dood is voortspruitend uit die protesoptrede. Die universiteit kon dit tot op hede nie bevestig nie.
“Die VF Plus het intussen die UWK versoek om onmiddellik stappe te neem om die studente se persoonlike veiligheid te verseker, om ‘n omgewing te skep waarin studente sonder vrees of intimidasie kan studeer en om die voorval en dreigemente deur die polisie te laat ondersoek,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403