Die VF Plus dring daarop aan dat Sanral, strukturele ingenieurs en die Ekurhuleni-metro se departement vir paaie en stormwater dringend ʼn oplossing vind om die Elginbrug in Kemptonpark te beveilig.
Dit volg ná die jongste voorval waar ʼn swaar voertuig wat sementblokke vervoer het, amper ʼn noodlottige ongeluk veroorsaak het toe dit teen die brug gebots het.
Die Elginbrug is al vir jare ʼn probleem vir motoriste wat die Pretoria-pad gebruik om te pendel weens swaar vragmotors wat die hoogtebeperking van die brug ignoreer.
Daar sit soms twee tot drie vragmotors per week onder die brug vas.
Die VF Plus het voorgestel dat swaar voertuie van ʼn alternatiewe roete gebruik moet maak totdat daar ʼn oplossing gevind is om die Elginbrug te beveilig.
Die party sal volhou om druk op die metro te plaas om daadwerklik op te tree en moontlike verdere ongelukke te vermy.