Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus verwerp Ekurhuleni-begroting weens onrealistiese syfers en hoë tariewe

Die VF Plus het nie die Ekurhuleni-metro se aangepaste begroting vir die 2026/27-finansiële jaar gesteun nie aangesien die kernbesware teen die begroting steeds nie uit die weg geruim is nie. Aannames daarin is bloot onrealisties gegewe die huidige ekonomiese klimaat, hoë werkloosheid en toenemende finansiële druk op huishoudings.

Alhoewel die ANC-koalisie die begroting as befonds, geloofwaardig en volhoubaar voorhou, steun dit op ’n hoogs twyfelagtige 90%-invorderingskoers en voorspel dit ’n oorskot van R1,523 miljard. Die VF Plus bevraagteken hierdie syfers ten sterkste.

Boonop laat ’n voorgestelde R500 miljoen in oorbruggingsfinansiering die ernstige vraag ontstaan waarom lenings hoegenaamd nodig is indien die begroting werklik ten volle befonds is.

Die VF Plus het hoofsaaklik teen die begroting gestem omdat dit onnodige en buitensporige druk op reeds swaar belaste inwoners plaas weens die volgende tariefverhogings:

• 11% vir water
• 8,35% vir sanitasie
• 8,76% tot 9,01% vir elektrisiteit
• 3,4% vir vullisverwydering
• 2% bykomend vir eiendomsbelasting

Die VF Plus is van mening dat veral die 2%-verhoging in eiendomsbelasting heeltemal onnodig is.

Die metro kan maklik vir hierdie tekort opmaak deur krag- en waterverliese hok te slaan, streng op te tree teen onwettige aansluitings en deur verbeterde kredietbeheer en invorderingsprosesse toe te pas.

In stede daarvan om bloot tariewe te verhoog, moet die metroraad proaktief met Nersa, Rand Water en ander rolspelers in gesprek tree om die druk van stygende koste op verbruikers te verlig.

Aangesien die voorgestelde begroting weens die VF Plus en ander partye se teenkanting nie genoeg steun kon werf om aanvaar te word nie, is die uitvoerende burgemeester, Nkosindiphile Xhakaza, en die burgemeesterskomiteelid vir finansies, Jongizizwe Dlabathi, nou wetlik verplig om binne sewe dae ‘n verdere aangepaste begroting aan die raad voor te lê vir oorweging.

Ekurhuleni se inwoners verdien en benodig ‘n begroting wat realisties en bekostigbaar is en onwrikbaar fokus op dienslewering.

Daarom moet kiesers op 4 November 2026 die geleentheid aangryp om vir die VF Plus in die plaaslike regeringsverkiesing te stem, sodat die party kan voortgaan om finansiële dissipline af te dwing en die belange van die belastingbetaler te beskerm.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.