Die VF Plus verwelkom vandag se uitspraak van die spesiale tribunaal dat kontrakteurs wat miljoene betaal is selfs voordat enige werk gedoen is aan die Beitbrug-grensdraad, die winste wat hulle verkry het, moet terugbetaal.
Die Spesiale Ondersoek-Eenheid (SOE) het twee maatskappye, Caledon River Properties (Edms.) Bpk. ProfTeamBK, voor die hof gebring in ‘n poging om sowat R40 miljoen wat aan die projek bestee is, terug te kry.
Die VF Plus stem saam met regter Lebogang Modiba dat die grootste verloorders in hierdie saak die staat en die belastingbetaler is.
Die SOE en die departement van openbare werke en infrastruktuur is ook beveel om ‘n gekwalifiseerde persoon aan te stel om ‘n verslag saam te stel oor die redelikheid van die twee maatskappye se uitgawes en om dit dan by die spesiale tribunaal in te dien.
Die terugbetaling moot binne dertig dae na die indiening van die verslag geskied.
Die VF Plus het die minister van openbare werke en infrastruktuur, Patricia de Lille, sedert 2020 verskeie keer in die parlement gevra oor die Beitbrug-aangeleentheid.
Ten tyde van ‘n vergadering van die betrokke parlementêre portefeuljekomitee in Augustus 2020 het die VF Plus aan min. De Lille gesê sy het geen beheer oor departement se oorbesteding gehad met die oprig van die grensdraad nie.
Ook dat sy die Rampbestuurswet misbruik het om die grensdraad te laat oprig en dat sy die verantwoordelikheid daarvoor moet aanvaar.
De Lille het ontken dat sy baat gevind het by die projek en het gesê sy is bereid om haar bankrekeninge te openbaar om dit te bevestig.
Die VF Plus sal wil sien dat De Lille na vandag se uitspraak haar woord gestand moet doen en openlik verantwoordelikheid vir die debakel aanvaar en nie soos voorheen die blaam probeer verskuif na amptenare van haar departement nie.
Min. De Lille is die politieke hoof van die departement en sy het haar oorsigrol nie net versaak nie, maar het onregmatig opgetree toe sy as minister die Rampbestuurswet uitgebuit het.
Ingevolge Artikel 27(2)(L) van die Rampbestuurswet (nr. 57 van 2002) en die regulasies van nasionale tesourie, word daar voorsiening gemaak vir die afwyking in die noodverkryging van sekere dienste, items en goedere.
Min. De Lille het die projek laat voortgegaan sonder dat die nodige verkryginsprosedures gevolg is en voordat die Rampbestuurswet in werking getree het. Dit is onaanvaarbaar en sy moet sonder meer bedank.