Die VF Plus verwelkom die polisie-optrede teen onwettige myners (Zama Zama’s) by Orkney gisteraand al is dit betreurenswaardig dat mense moes sterf om die omvang van die voortslepende probleem te belig.
Die polisie het met die steun van plaaslike veiligheidstrukture en sekuriteitsmaatskappye opgetree teen ‘n groep van 300 onwettige myners wat hul weg wou oopdwing om proviand aan hul makkers ondergronds te verskaf. Die Zama Zama’s het vroeër ‘n verseëlde ventilasie-skag met plofstof oopgeskiet om toegang tot en vanaf mynskagte te verkry.
Die groep het op die polisie geskiet waarna ses van die Zama Zama’s in die skietery omgekom het en nog 35 in hegtenis geneem is op onder meer aangekla van poging tot moord, sameswering om misdaad te pleeg en opsetlike saakbeskadiging.
Wat kommerwekkend is, is die feit dat die betrokke mynmaatskappy sedert Saterdag reeds honderde Zama Zama’s toegelaat het om die myn te verlaat en selfs mediese bystand aan sommige verskaf het sonder om klagte teen hulle in te dien. Dit terwyl ervaring reeds gewys het dat hulle telkens terugkeer om hul plundery voort te sit en plaaslike gemeenskappe te teister.
Die straffelose vrylating van gewelddadige misdadigers hou ‘n ernstige bedreiging vir die Orkney-gemeenskap in, wat gereeld onder hierdie misdadige optrede deurloop.
Mynmaatskappye behoort klagte teen alle onwettige myners en hul meelopers in te dien om só die owerhede se hand te sterk om hierdie euwel doeltreffend te beveg. Dit is die enigste wyse waarop hierdie elemente aan bande gelê sal word en hulle tot die besef gebring sal word dat die land se wette gerespekteer moet word.
Onwettige mynbedrywighede in Suid-Afrika is besig om handuit te ruk en is ‘n bedreiging vir die ekonomie en die veiligheid van inwoners.
Die VF Plus sal aanhou om druk toe te pas op die owerhede om hierdie euwel met alle wetlike middele te bestry.