Die VF Plus verwelkom die strafregtelike optrede teen die burgemeester van Newcastle, Ntuthukho Mahlaba, wat gister in die hof op Newcastle verskyn het op verskeie aanklagte.
Luidens ’n berig in News24 vandag (ANC Newcastle mayor arrested) sluit die klagte teen Mahlaba, wat ook die ANC se streeksvoorsitter is, onder meer diefstal en aanranding in.
Mahlaba is in 2019 in hegtenis geneem in verband met die moord op ’n jeugliga-leier van die ANC, Wandile Ngubeni, maar die klag is teruggetrek na die dood van ’n sleutelgetuie.
Nieteenstaande die ANC se terugstaan-klousule, sê die munisipaliteit van Newcastle in ’n verklaring wat vandag uitgereik is dat Mahlaba aanbly as burgemeester en dat die huidige klagte teen hom “ongegrond en kwaadwillig” is.
Die VF Plus beskou dit as skokkend dat die ANC Mahlaba nieteenstaande die vorige ernstige klagte teen hom, steeds laat aanbly het as burgemeester en hom nou weer beskerm.
Mahlaba het voorheen ook onmin in die raad veroorsaak deur ’n rol te speel in die weerhouding van forensiese verslae wat die vorige termyn se burgemeester, Afzul Rehman, by beweerde onreëlmatighede betrek het. Ook hierdie aangeleentheid is nooit op die spits gedryf nie.
Buiten hierdie aangeleenthede het dienslewering en die dorp se geldsake onder Mahlaba ernstig agteruit gegaan wat hom volgens die VF Plus totaal ongeskik maak om te dien as burgemeester.
Dit is skokkend om te sien hoe die ANC daarmee volhard om onbevoegde amptenare teen wie ernstige beweringe gemaak word, aan sy boesem te koester.
Die stand van plaaslike regering en dienslewering in Suid-Afrika is ’n weerspieëling hiervan en met die volgende munisipale verkiesing moet kiesers saam met die VF Plus opstaan en sterk standpunt inneem teen munisipaliteite se verval onder die ANC.
Navrae: 082 388 3000