Die VF Plus het ‘n petisie in die vorm van ‘n beswaarskrif namens die inwoners van die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit (Allanridge, Hennenman, Odendaalsrus, Ventersburg, Virginia, Welkom) oor die voortslepende waterkrisis by die waarnemende sekretaris van die Vrystaatse wetgewer, adv. Joseph Machaka, ingedien.
Die beswaarskrif is ingedien ingevolge reël 41 van die staande reëls en ordes van die wetgewer
Dié beswaarskrif, wat verlede jaar van stapel gestuur is en deur meer as 900 inwoners onderteken is, volg nadat die VF Plus ‘n klag by die Menseregtekommissie (MRK) ingedien het om ondersoek in te stel na moontlike menseregteskendings weens gereelde watertekorte.
Na jarelange waterprobleme sit sommige dele van Welkom, soos Riebeeckstad, tans weer vir die afgelope twee weke sonder water.
Luidens die vorige finansiële jaar se verslag deur die Ouditeur-Generaal (OG) het dié munisipaliteit meer as R150 miljoen se water verloor weens lekkasies, terwyl slegs 20% van die voorwaardelike toekenning vir waterinfrastruktuur bestee is.
Die buitengewoon groot hoeveelheid skoon water wat in strate loop, is ‘n duidelike bewys dat herstelwerk aan waterinfrastruktuur nie gedoen word nie.
Hierdie beswaarskrif vereis dat die munisipaliteit gedwing word om die fondse tot sy beskikking te bestee om water- en rioolinfrastruktuur in stand te hou en te herstel.
Die VF Plus verwag dat die wetgewer gepaste stappe moet neem om oplossings vir die voortslepende waterkrisis in Matjhabeng te vind.
Die VF Plus staan op teen swak dienslewering en vir die regte van inwoners.
Navrae: 082 886 9945


