Die burgemeester van die Ekurhuleni-metroraad (Boksburg, Brakpan, Benoni, Springs, Nigel, Kempton Park, Germiston, Edenvale en omliggende gebiede), Mzwandile Masina, moet eerder fokus op die enorme diensleweringsprobleme in Ekurhuleni en ophou om mense te probeer beïndruk met onrealistiese toekomsdrome soos die skep van ‘n dieretuin en 'n Disneyworld.
Masina het vandag gedurende ‘n raadsvergadering in sy oorsigverslag min gesê hoe hy diensleweringsprobleme soos die opgradering en onderhoud van ou infrastruktuur gaan oplos asook ‘n gesonde omgewing gaan skep vir almal wat in die metro woon en werk.
Inwoners van Ekurhuleni is sedert die begin van die jaar uitgelewer aan grootskaalse kragonderbrekings weens substasies wat nie behoorlik opgegradeer word en nie langer die verhoogde ladings kan hanteer nie.
Die VF Plus het Masina reeds herhaaldelik versoek om die probleme te behandel en te sorg dat die metroraad voorkomend optree. Die versoeke het keer op keer op dowe ore geval.
In Februarie vanjaar is vullisverwydering feitlik tot stilstand gedwing toe die metroraad nagelaat het om diensverskaffers te betaal en tenders betyds te hernu. Die metro gebruik vyf stortingsterreine, maar weens wanbetaling, was vier in onbruik.
Die VF Plus moes noodgedwonge die Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Lebogang Maile, versoek om in te gryp en die metroraad te dwing om vroegtydig met tenderprosesse te begin.
Die party sou graag van Masina wou hoor watter maatreëls die metroraad gaan instel om sakepersele teen moontlike toekomstige plundery te beskerm.
Die veiligheid van inwoners is uiters belangrik en daarom is nouer bande met gemeenskapsveiligheidforums van kardinale belang om toenemende misdaad in dorpe en stede te bekamp.
Die welstand van die inwoners van Ekurhuleni is vir die VF Plus belangrik en daarom sal die party nie huiwer om druk op die metroraad te plaas om dienslewering en veiligheid ‘n prioriteit te maak nie.