President Cyril Ramaphosa se weerhouding van die spesiale ondersoekeenheid (SOE) se verslag oor Digital Vibes waardeur die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, glo bevoordeel is, is besig om die verkeerde seine uit te stuur.
Dit wil voorkom asof die president in hierdie stadium versigtig is om die verslag bekend te maak. Dit is onaanvaarbaar vir die VF Plus.
Wie ook al betrokke was en in die verslag genoem word as moontlike betrokkenes by bedrog en korrupsie, moet nie net geopenbaar word nie, maar moet ook die straf kry wat hulle toekom.
Verskeie mediaberigte het die afgelope week verskyn wat minister Mkhize daarvan beskuldig dat hy en sy familie finansiële voordeel getrek het uit die Digital Vibes-kontrak.
Die SOE het glo bevind die verkrygingsprosedures wat gevolg is om die Nasionale Gesondheidsversekering se kommunikasiestrategie-kontrak aan Digital Vibes toe te ken was diep gebrekkig, onwettig en waarskynlik ongeldig.
Luidens berigte blyk dit ook dat Digital Vibes onreëlmatig bevoordeel is in die bodproses.
Dit wil voorkom asof meer persone in die departement van gesondheid in hierdie stadium by die skandaal betrek word en daarom is dit in openbare belang dat die president hierdie verslag dadelik bekend moet maak.
Deur dit nie te doen nie, word die indruk geskep dat verskeie persone wat genoem word, sodoende beskerm word. Intussen sit Suid-Afrika in ‘n kritieke stadium van ‘n pandemie sonder ‘n gesondheidsminister wat leiding moet gee in die stryd teen Covid-19.
Die departement en sy amptenare is aangewese op hulself en ‘n waarnemende minister om sake te beredder.
Die president moet toesien dat Mkhize voor die parlement se portefeuljekomitee vir gesondheid verskyn om te verduidelik wat die toedrag van sake tussen homself en Digital Vibes is.
Indien hy nie voor die komitee wil verskyn nie, moet die president toesien dat die SOE-verslag sonder versuim uitgereik word sodat die reg sy gang gaan en Mkhize en ander betrokkenes vervolg word.
Die president sal as ‘n saak van die grootste dringendheid ‘n ervare en bekwame persoon as minister van gesondheid moet aanstel om Suid-Afrika deur hierdie pandemie te lei.