Die VF Plus verwelkom die langverwagte herstel van die telemetrie-metingstelsel wat watertekorte en watervermorsing in Hazyview in die Mbombela-plaaslike munisipaliteit (Mbombela/Nelspruit, Barberton, Hazyview, Kaapschehoop, Skukuza, Witrivier) behoort te verminder.
Hazyview het lank gely onder watertekorte en -kwessies wat dikwels tot hoë watertariewe en -rekeninge aanleiding gegee het.
Een van die groot probleme wat inwoners ervaar het, was die daling van watervloei weens afsluiting wat ‘n opbou van lugdruk in die pype veroorsaak.
Wanneer daar 'n skielike vrystelling van hierdie druk is, veroorsaak dit dat die meters buitensporig vinnig loop, sodat dit lyk asof groot hoeveelhede water verbruik word wanneer niks anders nie as lug deur die watermeter vloei.
Die telemetriestelsel sal nou die watervlakke in reservoirs voortdurend monitor en die tydsverloop tussen leë pype en vol waterpype verminder. Dit was tot nou die werk van munisipale amptenare.
Die stelsel bespeur ook lae druk in pype wat amptenare onmiddellik oor moontlike pypbreuke waarsku om herstelwerk te bespoedig.
Water is ‘n skaars en kosbare hulpbron en die VF Plus sal voortgaan om druk op die munisipaliteit te plaas om toe te sien dat die herstel van waterlekkasies en die instandhouding van waterinfrastruktuur as prioriteit hanteer word.
Navrae: 076 687 2830 / 066 376 3329