Die VF Plus verwelkom die Valke se inhegtenisneming van ’n aanklaer in Limpopo, ‘n terreinbestuurder, ’n administrateur en 14 spookwerkers vir beweerde tenderbedrog in die Makhado-plaaslike munisipaliteit.
Limpopo se departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) het in 2016 en 2021 ‘n tender aan die nie-regeringsorganisasie Thembalethu toegeken vir die skoonmaak van die Makhado-gebied.
Die terreinbestuurder en die administrateur het na bewering vriende en familielede gewerf as werknemers van ‘n gemeenskapswerkersprogram.
Die werkers is nooit gesien in Makhado nie, maar het maandeliks R2 450 ontvang waarvan R1 500 terugbetaal moes word aan Thembalethu.
Cogta het met die tender R900 000 se skade gely terwyl Makhado (Louis Trichardt) steeds lyk soos ‘n onwettige vullisstortingsterrein.
Alhoewel die inhegtenisnemings ‘n druppel aan die emmer is, bring dit tog ‘n mate van hoop dat daar streng opgetree sal word teen amptenare en persone wat hul skuldig maak aan korrupsie.


