Die skorsing van die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging), se finansiële hoof, Andele Dyakale, kom as geen verrassing vir die VF Plus nie.
Die raad ondersoek agt klagte teen Dyakale wat onder meer insluit die onregmatige heraanstelling van politieke personeel wie se kontrakte net geldig was vir vyf jaar, onreëlmatighede met die toeken van Covid-19-kontrakte en korrekte prosedures wat nie gevolg is met die aanstelling van diensverskaffers nie.
Dyakale is op 28 Februarie in kennis gestel van sy moontlike skorsing en is sewe dae gegun om bewyse te lewer waarom hy nie geskors moet word nie.
Hy kon gister tydens ‘n raadsvergadering nie op al die klagte teen hom reageer nie en is summier vir 30 dae, sonder salaris, geskors terwyl die raad die klagtes teen hom ondersoek.
Die VF Plus waarsku al jare oor die finansiële wanbestuur van die Emfuleni-munisipaliteit en sal die ondersoek na Dyakale se beweerde ongerymde optrede noukeurig volg om te voorkom dat enigiets onder die mat gevee word.
Die tyd het aangebreek om korrupsie en wanbestuur in Emfuleni wat onder ANC-beheer posgevat het, met wortel en tak uit te roei en die munisipaliteit van vooraf op te bou.