Die VF Plus verwelkom die besluit van die speaker van die nasionale vergadering, Baleka Mbete, dat die stemming oor die mosie van wantroue teen president Jacob Zuma in die geheim kan plaasvind.
Dr, Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê Suid-Afrikaners moet egter deeglik besef dat die geheime stem nie noodwendig die einde van die huidige presidentskap beteken nie.
“Hierdie besluit is ‘n aanduiding dat die ANC daarvan oortuig is dat hy beheer oor sy lede het en nie bang is vir ‘n geheime stemming nie.
“Die besluit van die speaker was rasioneel gesien in die lig van die argumente wat sy aangevoer het, en die VF Plus het nooit gedink daar kan ‘n ander besluit wees nie. Mbete het nogtans moed en durf ten toon gestel met haar besluit.
“Die VF Plus is van mening dat dit net logies is om die president met ‘n geheime stemming te probeer ontsetel aangesien hy deur ‘n geheime stemming in dié pos aangestel word.
“Ons doen opnuut ‘n beroep op die parlementslede van die ANC om die erns van die saak te besef, vir die mosie te stem en Suid-Afrika so ‘n nuwe kans te gee vir ‘n beter toekoms,” sê dr. Groenewald.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403