Die VF Plus verwelkom die eenparige steun van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) in die veroordeling van nóg ‘n brutale plaasaanval by Koster in Noordwes gisteraand. Die VF Plus het die mosie gebring nadat Chris en Hesta Barnard gisteraand op hul plaas buite Koster aangeval en ernstig aangerand is.
Dit is van kritieke belang dat politieke leiers van regoor die spektrum sulke barbaarse misdadigheid onomwonde verwerp.
Die VF Plus se mosie het voorts die belangrikheid van sigbare polisiëring en misdaadvoorkoming beklemtoon. Misdadigers moet weet dat hul dade nie ongestraf gelaat sal word nie en dat die gereg sterk in ons gemeenskappe teenwoordig is.
Dit is in die mosie ook gestel dat gespesialiseerde eenhede wat plaasmoorde en -aanvalle ondersoek, dringend versterk en as ‘n prioriteit toegerus moet word om hierdie misdade hok te slaan. Al hierdie punte is eenparig deur die NRP ondersteun.
Die VF Plus doen ‘n beroep op landelike gemeenskappe om ekstra waaksaam te wees en plaaslike veiligheidstrukture te steun om sodoende by te dra tot die uitroei van die kultuur van die barbaarse misdadigheid wat in die land posgevat het.