Die VF Plus het Limpopo se LUR vir ekonomiese ontwikkeling, omgewing en toerisme, Thabo Mokone, versoek om dringend in te gryp by die stortingsterrein op Mokopane (Potgietersrus) wat sedert verlede naweek brand en ‘n ernstige gesondheidsgevaar inhou vir inwoners.
Dit is nie die eerste keer dat brande by dié stortingsterrein ontstaan nie.
Die VF Plus het in Augustus 2020 ‘n klag by die menseregtekommissie (MRK) en die Groen Skerpioene ingedien oor die wanbestuur en vervalle toestand van dié stortingsterrein. Dit voldoen ook nie aan die minimumvereistes vir stortingsterreine soos bepaal deur die Afvalsbestuurswet nie.
Die Groen Skerpioene het die terrein besoek en aanbevelings gedoen, maar die Mogalakwena-plaaslike munisipaliteit kan nie uitvoering gee aan die aanbevelings nie weens die finansiële wanbestuur by die munisipaliteit.
Dit het die VF Plus nou genoop om die provinsiale regering te versoek om in te gryp en die munisipaliteit te dwing om sy verpligtinge teenoor die gemeenskap na te kom.
Die ANC-beheerde munisipaliteit kan nie langer toegelaat word om die gesondheid van inwoners in gevaar te stel en skade aan die natuur aan te rig weens wanbestuur en korrupsie nie.
Die Handves van Regte bepaal dat elke persoon die reg het om in ‘n omgewing te woon en te werk wat nie skadelik vir sy of haar gesondheid en welsyn is nie en dat die besoedeling en die ekologiese agteruitgang van die natuur voorkom moet word. Dit gebeur nie in Mokopane nie.
Inwoners moet van die komende plaaslike regeringsverkiesing op 1 November gebruik maak om hul regte op te eis en saam met die VF Plus op te staan, saam te staan en van die onbevoegde ANC in Mokopane ontslae te raak. Die verval en wanbestuur kan gestop word.