fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus verwelkom aanstelling van ‘n gesoute polisieman as permanente kommissaris

Die VF Plus verwelkom die aanstelling van luitenant-generaal Khehla Sithole as die nuwe nasionale polisiekommissaris. Hy is ‘n ervare en gesoute lid uit die geledere van die polisie en sal broodnodige stabiliteit in die topstruktuur van die polisie bring, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Lt. Genl. Sithole het in 1986 as konstabel in die diens begin en het deur die range beweeg. Hy is in 2013 aangestel as nasionale adjunk-kommissaris van beskerming en sekerheidsdienste.

Dr. Groenewald sê dit is die eerste keer sedert 1999 dat ‘n kommissaris uit polisiegeledere aangewys is as nasionale kommissaris.

Hy sê die VF Plus was nog altyd gekant daarteen dat politieke aanstellings gemaak is van mense wat geen polisie-ervaring gehad het nie, en dit is deel van die probleme met die agteruitgang van die polisiediens wat vandag met vrot appels deur al sy strukture sit.

“Noudat die kommissaris aangestel is, sal sy eerste toets wees om te kyk of hy ervare en bekwame bevelvoerders, wat nie onderhewig sal wees aan politieke gedienstigheid nie, permanent by bestaande waarnemende poste soos misdaadintelligensie sal aanstel.

“Die VF Plus sou wou sien dat die aanstelling van ‘n nasionale kommissaris moet geskied op aanbeveling van ‘n keuringspaneel wat bestaan uit die lede van die parlementêre portefeuljekomitee vir polisie en ander kundiges om seker te maak dat die beste kandidaat aangewys word. Tans besluit die president alleen oor dié aanstelling.

“Lt. genl. Sithole het geweldige uitdagings voor hom om misdaad in Suid-Afrika te bestry. Hy is toegerus om dit te kan doen en beskik oor die nodige vaardigheid en kundigheid. Die VF Plus sal hom steun in die regte besluite om misdaad effektief in Suid-Afrika te bestry,” sê dr. Groenewald.

Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.