Die VF Plus het Dinsdag tydens ‘n sitting van die Gautengse provinsiale wetgewer, dié provinsie se premier, David Makhura, versoek om ‘n oudit-verslag oor gemeenskapsveiligheid voor te lê om die tekortkominge in dié departement uit te wys.
Die party het die polisie- en gemeenskapsveiligheid-strukture se onvermoë om die onlangse onrus en plundery in Gauteng vinnig onder beheer te bring, benadruk en versoek dringende ingryping om probleme soos tekorte aan voertuie, vuurwapens, ammunisie, opleiding, beamptes en meer, aan te spreek.
Dit is onaanvaarbaar dat die polisie en gemeenskapsveiligheid in Gauteng langer as drie dae gesukkel het om die onrussituasie in bedwang te bring. Veiligheidstrukture moet deur wetgewing gelei word en nie deur politieke inmenging nie.
Skade van meer as R3,5 miljard is aan sake-ondernemings en infrastruktuur aangerig, 30 winkelsentrums is geplunder en grootliks vernietig, 79 mense is dood en 14 500 werksgeleenthede het verlore gegaan.
Die premier het in sy oorsig oor die onluste teleurgestel om deels werkloosheid en armoede die skuld te gee vir die onrus en geplunder.
Die polisie in Gauteng se teleurstellende optrede kan toegeskryf word aan ‘n tekort aan mannekrag en toerusting. Dit is nie aanvaarbaar dat uit die totale ledetal van 24 467 polisielede, slegs 1 728 bevoeg is om ‘n vuurwapen te hanteer nie.
Private sekuriteitsmaatskappye moes tydens die geweldpleging ingryp en het hul voertuie, helikopters en vliegtuie beskikbaar gestel om winkelsentrums te beskerm en te verseker dat plunderaars nie woongebiede binnedring om hul verwoesting daar voort te sit nie.
Gauteng kan nie ‘n tweede vlaag van anargistiese geweldpleging bekostig nie en daarom is pro-aktiewe optrede en gereedheid noodsaaklik.