fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus versoek burgemeester om by Kopanong-kragkrisis in te gryp

Die VF Plus het die burgemeester van die Kopanong-munisipaliteit (Trompsburg, Fouriesmith, Reddersburg en Gariep) versoek om dringend oplossings te vind vir die voortslepende elektrisiteitskrisis wat inwoners van Trompsburg ondervind.

Inwoners op die dorp het die afgelope naweek weens ‘n stukkende transformator ‘n elektrisiteitstekort gehad wat twee dae geduur het.

Dit wil egter voorkom of sekere gebiede nie deur die elektrisiteitstekort geraak is nie, aangesien straatligte gedurende die onderbreking dag en nag gebrand het.

Die onderbreking het onder meer daartoe gelei dat inwoners van die Trompsburg Huis vir Bejaardes nie kritieke gesondheidsdienste kon kry nie en ‘n bejaarde man sedert Saterdag nie belangrike suurstofbehandeling kon ontvang nie.

Na versoeke deur die VF Plus is die elektrisiteit Maandagaand herstel.

Die VF Plus is egter bekommerd oor die feit dat die probleem weer sal opduik, aangesien dit die vierde keer die afgelope maand is dat inwoners van die dorp weens voortslepende swak infrastruktuur en elektrisiteitstoerusting nie elektrisiteit het nie.

Die VF Plus het die burgemeester van Trompsburg-munisipaliteit, rdl Xolile Mathwa, die munisipale bestuurder, Lebohang Moletsane, asook die uitvoerende hoof van die elektrisiteitsvoorsiener, Centlec, N.A. Mqoqi en die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, M.D. Khoabane, versoek om dringende maatreëls in plek te stel om te keer dat nog ‘n elektrisiteitskrisis die dorp tref.

Die kragonderbreking in Trompsburg het reeds een persoon se lewe in gevaar gestel en die munisipaliteit het ‘n verantwoordelikheid om te verseker dat alle inwoners van kritiese dienste voorsien word.

Stukkende infrastruktuur, wat bloot net instand gehou moet word, mag nie die oorsaak van inwoners se pyn en lyding wees nie.

Kontaknommers: 082 490 6663

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.