fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus veroordeel stakers wat Tshwane-werker kaap en wond

Die VF Plus veroordeel ʼn aanval op ʼn amptenaar van die water- en sanitasie-afdeling van die Tshwane-metro wat Saterdag na werk vermoedelik deur stakende Samwu-lede gekaap en gewond is.

Die amptenaar was saam met sy span besig met herstelwerk in Montana toe ʼn groep stakende Samwu-lede hulle gewaarsku het om die herstelwerk stop te sit. Hulle het met hul werk voortgegaan. Ná voltooiing van die werk is die spanleier op pad na sy huis aangeval.

Lede van Samwu wat aan die onwettige staking deelneem, saai vanaf 28 Julie verwoesting oor die metro met brandstigting, klipgooi, beskadiging aan infrastruktuur en die intimidasie van werkers wat nie aan die staking wil deelneem nie.

Verlede week is vullisverwyderingsvoertuie onder klippe gesteek en in die middestad is ʼn persoon aangeval en met ʼn baksteen gegooi.

Die VF Plus is ook bekommerd oor Cosatu se betrokkenheid en die 3 000 lede van die South African Security and Allied Workers’ Union (Sasawu) wat Vrydag by die Samwu-staking aangesluit het.

Die Tshwane-metropolisie neem nie deel aan die staking nie en begelei werkspanne om hulle teen stakende werkers te beskerm.

Sowat 40 private sekuriteitsmaatskappye het ook hul hulp aangebied. Hulle doen patrolliediens by infrastruktuur om so te verseker dat geen verdere vandalisme plaasvind nie.

Die VF Plus het Vrydagaand sekuriteitsmaatskappye vergesel wat diensspanne beskerm het terwyl hulle herstelwerk aan infrastruktuur gedoen het.

Die party sal as deel van die Tshwane-metro se koalisieregering, nie toegee aan stakende werkers se salariseise nie. Daar is bloot nie fondse beskikbaar vir salarisverhogings nie en die metro het intussen op 10 Augustus aansoek gedoen by die Suid-Afrikaanse plaaslike regering-bedingingsraad om kwytskelding van die voorafooreengekome salarisverhoging.

Personeel van die metro het in 2017 ʼn verhoging van 7,36% ontvang, in 2018 7% en 6,5% in 2019.

In die 2019/20-boekjaar het werkers ʼn algemene verhoging van 18% ontvang wat baie hoër was as die arbeidsooreenkoms in daardie jaar. Dit het die stadsraad R2 miljard gekos.

Die laagste besoldigde werker in die metro ontvang tans ʼn salaris van R12 000 wat in die private sektor R6 000 per maand sou wees.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.