Die VF Plus veroordeel die kwalik bedekte rasse-aanval van die JB Marks-plaaslike munisipaliteit (Potchefstroom en Ventersdorp) se burgemeester, Kgotso Khumalo, op die VF Plus in ‘n amptelike verklaring wat gister deur sy kantoor uitgereik is.
Dit is eerstens 'n skande dat hy sy amp misbruik om politieke aanvalle op die opposisie te doen terwyl hy behoort te besef dat hy veronderstel is om 'n burgemeester vir die hele gemeenskap te wees. Sulke optrede skend die demokrasie.
In sy verklaring trek hy onder meer te velde teen die VF Plus se weiering om ‘n onwettige aansuiweringsbegroting te steun. Die VF Plus was ook die enigste party wat op 3 Julie 2020 teen die jaarlikse begroting gestem het, weens voortslepende finansiële- en bestuursprobleme by die munisipaliteit.
Khumalo impliseer onder meer dat die VF Plus rassisties is en net selektiewe ontwikkeling en dienslewering voorstaan. Hierdie blatante vals beeld is ‘n desperate poging om die aandag weg te lei van die rampspoedige verval van die eens welvarende munisipaliteit onder sy leiding.
Dit is bloot 'n rookskerm om korrupsie en bedrog te verdoesel.
Die feit is dat die munisipaliteit in Khumalo se dienstermyn toenemend gesteier het onder ‘n rits skandale en bewerings van erge korrupsie en wanbestuur. Soveel so, dat die Noordwes provinsiale regering moes ingryp, die munisipaliteit onder administrasie plaas en ondersoek begin doen het na finansiële ongerymdhede en wanbestuur.
Daar is ook reeds ondersoeke by die munisipaliteit begin deur die Valke en die spesiale ondersoekeenheid (SOE). Dit is ‘n skandelike toedrag van sake by ‘n eens trotse munisipaliteit.
Die VF Plus in JB Marks gaan ‘n brief rig aan die burgemeester en daarop aandring dat hy onmiddellik sy ongegronde en lasterlike aantygings teen die party in 'n openbare verklaring terugtrek. Die hof het reeds in 2019 bevind dat sulke ongegronde bewerings van rassisme onwettig is en ernstige gevolge vir oortreders kan inhou.
Die VF Plus sal aanhou om enige korrupsie, wanbestuur en ongerymdhede te ontbloot en te beveg op alle vlakke van regering.
Die desperate poging van die burgemeester sal die VF Plus nie in hierdie stryd van stryk bring nie.
Navrae: 082 415 8628