Die VF Plus veroordeel die wrede en sinnelose plaasaanval buite Kestell in die Vrystaat waarin sewe mense dood is.
Veral skokkend is die feit dat ses vroue onder die slagoffers tel. Vyf van hulle was werknemers op die plaas.
Die plaaseienaar, mnr. Alheit Smit (77), het self op die lyke van sy vrou, Sisi, sy sewentienjarige stiefseun en die vyf werknemers afgekom.
Die VF Plus verwelkom die vinnige optrede van die polisie en die inhegtenisneming van twee verdagtes naby die Bohlokong-nedersetting naby Bethlehem. Twee geroofde vuurwapens is onder meer teruggevind.
Geweld en moord in Suid-Afrika, veral wat plaasmoord aanbetref, is buite beheer en die VF Plus sal wil sien dat die swaarste strawwe moontlik aan opgelê word aan die skuldiges.
Iewers moet die streep getrek word wat landelike veiligheid en plaasaanvalle aanbetref. Dit wil egter voorkom asof hierdie pleidooi van die VF Plus jaar na jaar op dowe ore val.
Voorvalle soos hierdie getuig van gebreke in die land se strafregstelsel en die feit dat misdadigers geen vrees vir die polisie het nie.
Die VF Plus sal aanhou om druk op die regering te plaas om plaasaanvalle tot prioriteitsmisdade te verklaar.
Eindelik sal wetsgehoorsame landsburgers se veiligheid eers weer na waarde geag word wanneer daar van die huidige regering ontslae geraak word. Suid-Afrika se mense verdien beter as die ANC.