In nog ‘n energieskok het Sasol gister in ‘n kort nota verklaar dat 'n force majeure die sluiting van sekere aanlegte van die Natref-raffinadery noodsaak.
Skeepsvragte ru-olie wat nie volgens plan afgelewer is nie, is die direkte oorsaak. Die grondoorsaak is egter swak beleidsbesluite oor 'n lang tydperk.
Suid-Afrikaanse raffinaderye, wat selfs 'n dekade gelede nog vloeibare brandstof na buurstate kon uitvoer, het sodanig verminder dat slegs sowat 40% van die land se behoefte plaaslike geraffineer word.
Die res word in voltooide vorm ingevoer. Dit beklemtoon die kwesbaarheid van die landsekonomie vir internasionale onsekerheid en selfs seetoestande.
Tevore is 'n strategiese noodvoorraad by Ogies opgeberg, juis om gebeure van hierdie aard te voorkom.
Volgens die antwoord op 'n onlangse skriftelike vraag van die VF Plus aan die minister van minerale hulpbronne en energie, mnr. Gwede Mantashe, is daar geen voorraad in hierdie fasiliteit nie.
In sy weeklikse oorsig oor elektrisiteitsvoorsiening, vermeld die uitvoerende hoof van Eskom, mnr. André de Ruyter, telkens die afhanklikheid van dieselaangedrewe oopsiklus-gasopwekkers (die sogenaamde OCG's).
Verder nader die landbousektor planttyd, terwyl die hele land van padvervoer afhanklik is. Weens kabeldiefstal is selfs spoorvervoer toenemend op brandstof aangewese.
Die enigste ligpunt in hierdie donker prentjie is dat Natref deur die private sektor bedryf word.
Rolspelers dui aan dat hulle alles moontlik doen om aanlegte so gou moontlik weer aanlyn te bring. Sou die land van 'n staatsonderneming afhanklik wees, kon die gevolge veel ernstiger wees.
Die VF Plus het onlangs gewaarsku dat die huidige energiekrisis in 'n ekonomiese ramp kan ontaard. Vooruitsigte lyk nou selfs slegter.