Noordwes se regering gaan ‘n teenkorrupsie-oorsigmeganisme oor munisipaliteite instel op aandrang van VF Plus.
Die provisie se LUR vir finansies, me. Motlalepule Rosho, het dié stap aangekondig tydens die debat oor provinsiale finansies in die wetgewer.
Hierdie aankondiging kom nadat die VF Plus in die wetgewer versoek het die provinsiale regering strenger maatreëls moet instel en toepas om korrupsie hok te slaan.
Rosho het die VF Plus bedank vir die konstruktiewe insette in hierdie verband.
Die VF Plus sal die proses monitor om te verseker dat die stroping van openbare fondse deur munisipale ampsdraers en amptenare in Noordwes se munisipaliteite stopgesit word.
Dit is van kritieke belang om die endemiese korrupsie in die provinsie se ANC-beheerde munisipaliteite te stuit.
Munisipaliteite in Noordwes word tans amptelik geklassifiseer as die swakste in die land. Munisipaliteite regoor die provinsie is in ʼn haglike toestand en dreig op die rand van algehele ineenstorting.
Dit is die gevolg van ANC-ampsdraers se jarelange kultuur van die toesmeer van die stroping van openbare fondse en die selfverryking van ANC-kaders op die rekening van belastingbetalers.
Die VF Plus het al telkemale uitgewys dat die toenemende korrupsie en wanbesteding, tesame met die ANC-beleide van kaderontplooiing, regstellende aksie en die kultuur van onverantwoordbaarheid op alle vlakke van regering in die provinsie, op verraad teen die inwoners van Noordwes neerkom.
Die Noordwes verdien beter as die ANC.


