Die VF Plus is verheug om te verneem dat die Ekurhuleni-metro sy tender vir die verskaffing van Xbox-speletjies in drie van die metro se biblioteke herevalueer omdat dit geweld aanhits.
Die party is nie gekant teen die aankoop van die X-box-konsoles nie. Dit moet egter gebruik en gemonitor word om leerders van nuwe tegnologie te leer of om hulle op Vrydae na ʼn harde werksweek te beloon. Dit was die oorspronklike doel.
Die nuwe verskynsel in die tender-advertensie om sekere speletjies in te sluit, is kommerwekkend.
Speletjies soos FIFA2023, Call of Duty, Mortal Kombat11, Minecraft Dungeons en ongespesifiseerde Lego Star Wars het geen opvoedkundige waarde nie.
Mortal Kombat 11 is bekend vir brutaliteit en is niks anders as ʼn visuele uitbeelding van geweld nie.
Modern Warfare kan ook aanlyn gespeel word deur kinders van alle ouderdomme. Kru taal en beledigings daarin is aan die orde van die dag.
Die ander speletjies bevat ook komponente van geweld waardeur kinders beïnvloed kan word.
Die speletjies het ʼn ouderdomsbeperking van 18 jaar wat dit opsigself onvanpas maak.
Die metro is van mening dat die aanwending van die X-box-konsoles en -speletjies by die nuwe skoolkurrikulum en die vierde industriële revolusie aanpas, maar die VF Plus se siening is dat dit sinvol moet wees.
Die VF Plus het na afsluiting van die tenderprosedures die hoof van biblioteke, Karin Muller, geskakel en sy misnoeë uitgespreek oor die aangeleentheid.
Sy het aangedui dat die aankoop van die speletjies herevalueer sal word. Die proses is nog nie afgehandel nie.
Indien die metro nie die speletjies aanpas nie, sal die VF Plus druk op die metro plaas om seker te maak die ouderdomsbeperking word toegepas.
Die party beskou ook die tender van R200 000 as buitensporig aangesien die konsoles op die vrye mark vir R12 000 elk aangekoop kan word. Dit is nie aanvaarbaar nie.