Die regering se regulasies rakende die beperkings op die toerisme-sektor is heeltemal teenstrydig met die wyse hoe die vervoer-industrie soos taxi’s en busse gereguleer word. Daar moet nóú opgetree word om groot skade en werksverlies in dié bedryf te voorkom.
Die VF Plus steun daarom die plaaslike toerisme-rolspelers se optog na die provinsiale wetgewer van Mpumalanga en die party doen 'n dringende beroep op die LUR vir veiligheid, sekuriteit en toerisme, Cynthia Tshabalala, om ag te slaan op die noodkreet van Mpumalanga se toerisme-sektor.
In Mpumalanga dra toerisme 4.2% by tot werkskepping in die provinsie. Nasionaal ly die bedryf tans daagliks skade van R750 miljoen en 1.5 miljoen werksgeleenthede is in die weegskaal.
Die VF Plus sal met Tshabalala skakel om antwoorde te bekom aangaande vrae oor die impak wat die inperking op die sektor het. Die VF Plus het dié vrae reeds in Mei aan die departement gestel.
Die grootste vraag is waarom minibus-taxi’s toegelaat word om teen 100% passasier-kapasiteit te werk, maar toergids-voertuie mag glad nie operasioneel wees nie.
Dit is irrasioneel om geen toere toe te laat nie, want die toeroperateurs sal op ‘n verantwoordelike wyse sorg dat daar aan die nodige gesondheids- en veiligheidsregulasies voldoen word.
Die VF Plus sal ook by die LUR daarop aandring om die Covid-19-veiligheidsprotokolle, wat saamgestel is deur die Toerisme-sakeraad van Suid-Afrika (TBCSA), te bestudeer.
Die VF Plus is van mening dat die hierdie protokolle veel beter is as dié wat deur die taxibedryf gebruik word, en tog word die taxibedryf bevoordeel. (Aangeheg is ‘n kopie van die protokolle).
Navrae: 084 652 9164 / 076 687 2830