(NRP-debat: Aansuiweringsbegroting vir departement van maatskaplike ontwikkeling)
Armoede moet as grondslag gebruik word vir ontwikkeling en bemagtiging en nie om gemeenskappe meer afhanklikheid van die staat te maak nie. Volgens die Bybel is dit beter om mense te leer visvang as om aan hulle vis te gee.
Armoede is 'n nasionale probleem wat 'n groot deel van ons samelewing beïnvloed. Die betrokkenheid van 'n hele gemeenskap om armoede uit te wis, is die doeltreffendste vorm van armoedeverligting. Betrek die gemeenskap. Moet hom nie verlam nie.
Die VF Plus streef daarna om gemeenskapsgegronde maatskaplike dienste te bevorder. Die gebruik van rassekwotas word verwerp en daar word aanbeveel dat 'n middeletoets gebruik word om staatsfinansiering aan maatskaplike diensorganisasies toe te ken.
Ten einde armoede aan te pak, moet onafhanklike plaaslike ekonomieë ontwikkel word; armoede moet as grondslag vir bemagtiging gebruik word; groei en ontwikkeling, en nie rassedoelwitte nie, moet as bemagtigingsmetodes gebruik word.
Suid-Afrika moet streef na spesiale ekonomiese sones wat nie onder regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging en beperkende arbeidswette onderworpe is nie, asook die vestiging van gemeenskapgerigte maatskaplike dienste.
Maar vir die ANC is dit blykbaar sake soos gewoonlik. Wat kommerwekkend is, is dat daar konsepwetgewing oor maatskaplike bystand is wat met die eerste oogopslag baie edel lyk, maar niks anders is nie as 'n verdere poging om gemeenskapsafhanklikheid aan die regering te verseker.
Dít sal die ANC met volgende jaar se munisipale verkiesing bevoordeel, want arm mense sal nie hul statutêre toelaes in gedrang bring deur vir ‘n ander party te stem nie.
Dit wil voorkom asof minister Lindiwe Zulu haar kabinetspos kan verloor en ontleders wonder of die idee van 'n radikale basiese inkomstetoelaag 'n poging van haar is om haar posisie te versterk en haar van ‘n verskoning te voorsien indien sy wel afgedank word.
'n Basiese inkomstetoelaag sal meer afhanklikheid aan die staat skep en nie die meer selfstandige en onafhanklike gemeenskappe wat nodig is nie. Die ANC se verlammende beleid is egter belangriker vir die minister.
Die minister se bekwaamheid is bevraagteken deur die loesing wat sy onlangs in die hooggeregshof ontvang het toe die sluiting van privaatskole vir vroeë kinderontwikkeling onwettig verklaar is.
Die ideologie van hierdie departement is verkeerd en gevaarlik.
Navrae: 076 629 6219