Die Vryheidsfront Plus is tans besig om te besin oor 'n moontlike hooggeregshof aansoek om die E-Tolwet ongrondwetlik te verklaar wat die Gautengse e-tolstelsel sal stop. Die party se regspan is in die proses om 'n opinie te formuleer oor die pad vorentoe.
Intussen is dit belangrik om ook die kollig na tolpaaie en tolplanne elders in die land te skuif.
Adv. Alberts sê die huidige stryd teen die beoogde N1-/N2-Wynland-tolprojek van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) en die betrokkenheid van die Wes-Kaapse DA-regering daarby, kan inwoners van die provinsie met reg laat wonder oor die uitkoms van die projek.
“Soos met die stryd teen e-tol in Gauteng, staan die Vryheidsfront Plus steeds beginselvas teen die stelsel,” sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.
Volgens adv. Alberts is dit nie algemeen bekend dat die DA in beginsel ten gunste van tol, of ‘privatisering’ van openbare paaie is nie. Die DA se amptelike beleid is ten gunste van die "padgebruiker betaal"-beginsel soos wat nou deur SANRAL in Gauteng afgeforseer word. Die praktiese bewys daarvan kan gevind word in die huidige Chapmanspiek-tolpad wat onder DA-regering beplan, in gebruik geneem is en bestuur word.
Teen hierdie agtergrond is daar 'n diskonneksie tussen die DA se eie beleid en die opponering van die e-tolstelsels in Gauteng en die beoogde N1-/N2-Wynland-tolprojek en moet mens jouself afvra of die opponering nie eerder gebore is uit suiwer politieke opportunisme nie? Dis waarskynlik dat die inwoners van die Wes-Kaap in die nadraai van die 2014-verkiesing al hoe meer DA-geïnspireerde tolprojekte gaan sien ontvou. Die enigste teenvoeter teen sodanige optrede sal wees om te verseker dat die DA voortaan die Wes-Kaap in koalisie met die VF Plus regeer wat op beginselvaste wyse belastingbetalers en minderhede se belange beskerm.
Die VF Plus het hom nog deurentyd sterk uitgespreek teen die beginsel van tolheffings op openbare paaie en het met onvermoeide ywer deelgeneem aan die stryd teen e-tol in Gauteng.
“‘n Mens moet onwillekeurige die vraag vra hoe eerlik en openlik die DA is oor die stryd teen tolpaaie in die Wes-Kaap.
“Daarenteen kan die publiek doodseker daarvan wees dat die VF Plus die stryd teen die onnodige stelsel met alle ywer sal voortsit,” sê adv. Alberts.
Adv. Anton Alberts
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403