fbpx
Vryheidsfront Plus

Suid-Afrika se toekoms op altaar geplaas vir geld met hidrobreking

Indien hidrobreking in ‘n perfekte omgewing sou plaasvind, sou dit reeds ‘n yslike risiko wees. In Suid-Afrika, met sy skaars waterbronne en ‘n regering wat in die proses oënskynlik geld bo bewaring stel, kan dit rampspoedige gevolge inhou, sê adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se parlementêre woordvoerder oor minerale bronne.

Adv. Alberts sê die VF Plus sal daarom die proses van hidrobreking om skaliegas te ontgin, steeds op elke manier moontlik teenstaan in die belang van toekomstige generasies van die land.

Die weg vir die ontginning van skaliegas is gister (Donderdag 10 Oktober) gebaan toe Susan Shabangu, minister van minerale bronne, die tegniese regulasies gepubliseer het vir die ontginning van onder meer skaliegas in die Karoo en elders in die land.

Adv. Alberts wys daarop dat selfs ‘n kundige op die gebied soos prof. Gerrit van Tonder, hidroloog van die Universiteit van die Vrystaat, luidens mediaberigte toegee dat ‘n gebied waar hidrobreking plaasvind, weens water en grondbesoedeling vir die toekoms ‘afgeskryf’ kan word.

“Die VF Plus sal sorg dat die stemme van die boere en die inwoners van die gebied gehoor word. Die Khoisan-mense het reeds met die VF Plus gesels en het aangedui dat hulle ook sterk daarteen gekant is. Ons hou ook ons opsies oop om regsaksies te ondersteun wat die proses wil stuit.

“Ons waarsku lank reeds dat hidrobreking vergelyk kan word met die skade wat ‘n kernontploffing aanrig. Dit is onherstelbaar

“In hierdie stadium is daar sprake dat sowat 600 000 ha in die Karoo vir die doel opgeoffer gaan word. Dit sal gas vir sowat 20 jaar verskaf. Maar wat gebeur daarna? Gaan die geldkrane na twintig jaar werklik net toegedraai word? Of gaan die regering bloot verdere eksplorasie toelaat?

“Die regering sê hy wil 20% gratis aandeel in alle hidrobrekings-nywerhede hê en dat hy dalk kan besluit om sy belang tot 50% te vergroot. Net vir die huidige kyk ons na ‘n bedrag van meer as R90 miljard vir die staat.

“Hierdie proses is weereens so hardhandig deurgestoomroller dat ‘n mens onwillekeurig parallelle trek met die multimiljardrand-wapentransaksie en die publiek sal nie kwalik geneem kan word as ernstige kommer ontstaan oor die deursigtigheid van die proses nie.

“Selfs in hierdie stadium is dit skreiend dat die staat erken hy gaan 20% neem vir elke lisensie. Dit bewys dat die regering vir eie belang hierby betrokke is en dat dit nie werklik gaan oor die belange van Suid-Afrika en sy inwoners nie.

“Die regering moet eerder daarop fokus om die land se bestaande minerale hulpbronne te ontgin en ten volle te benut. Ten spyte van die land se minerale rykdom, het die regering dit reggekry om die industrie so swak te bestuur dat Suid-Afrika nie veel beleggings trek om dit te ontwikkel nie,” sê adv. Alberts.

 

Adv. Anton Alberts

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.