Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Inlywing van Midvaal en Emfuleni in nuwe metro ‘n ramp vir inwoners

“Die beoogde inlywing van die Midvaal-munisipaliteit in Meyerton en die Emfuleni-munisipaliteit wat Vereeniging en Vanderbijlpark insluit in ‘n nuwe metroraad sowel as die verskuiwing van Heidelberg-Lesedi na die Ekurhuleni-metro aan die Oos-Rand, stuur af op ‘n diensleweringsramp, sê mnr. Jaco Mulder, VF Plus-LPW vir Gauteng.

Die blote herverdeling van hulpbronne sal opsigself geen welvaart en verbeterde dienslewering in die Vaaldriehoek teweegbring nie, maar wel neerkom op die herverdeling van armoede.  Die streek benodig sterk leierskap en kundige amptenare wat dienslewering kan verseker.

Die geïntegreerde ontwikkelingsplanne van al drie plaaslike owerhede ter sprake maak nie vir so samesmelting voorsiening nie en die reeds bankrot Emfuleni-munisipaliteit se skuldlas sal deur Midvaal se belastingbetalers gedra moet word.

Verder is ‘n enkele openbare vergadering met geen in diepte inligting oor begrotings en die invloed op geïntegreerde ontwikkelingsplanne nie, totaal onvoldoende om as genoegsame openbare deelname gereken te word.

Die VF Plus het reeds op 17 April 2013 by die afbakeningsraad appèl aangeteken nadat openbare verhore tussen 7 en 11 April 2013 gehou is binne die twee munisipale gebiede en verskeie ander sentra in Suid-Afrika.  Die voorsitter van die munisipale afbakeningsraad, mnr. LJ Malhango, het die kennisgewing tot openbare verhore eers op 3 April 2013 onderteken – minder as 6 dae voordat die openbare verhore sou plaasvind en die publieke kennisgewings in nuusblaaie is so laat as op Sondag 7 April 2013 gepubliseer.

Die appèl is geskoei op die gees van die Suid-Afrikaanse grondwet soos vervat in artikel 33 wat in geen onduidelike terme die reg op billike administratiewe aksie reël in paragraaf 1, 2 en 3 en die Wet op die Bevordering van Billike Administrasie “PAJA”, wet 3 van 2000.

Die VF Plus is oortuig dat die munisipale afbakeningsraad lank gelede reeds besluit het om voort te gaan met die stap en dat openbare vergaderings weinig invloed sou hê op die besluit.  Die VF Plus het gedurende 2012 reeds met die munisipale afbakeningsraad in verbinding getree om duidelikheid te kry oor die aangeleentheid en het ook voorleggings aan die afbakeningsraad gemaak sonder enige reaksie. 

‘n Aanlynpetisie wat die party geloods het by www.mymunisipaliteit.org.za  om ‘n stem teen die beoogde samesmelting te monster, is deur duisende mense onderteken. Mulder het ‘n beroep op die publiek gedoen om die VF Plusen alle betrokke instansies te steun om die totstandkoming van die Metro te stuit, selfs al lei dit tot ‘n regsgeding.

Jaco Mulder, LPW

082 466 3786

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.