Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus sê nee vir Mbombela se voorgestelde kragtariefverhoging van 11,6%

Die VF Plus verwerp die Mbombela-plaaslike munisipaliteit (Mbombela/Nelspruit, Barberton, Hazyview, Kaapsehoop, Skukuza, Witrivier) se voorgestelde kragtariefverhoging van 11,6% vir die 2026/2027-finansiële jaar.

Hierdie verhoging is onregverdigbaar en plaas ’n onaanvaarbare bykomende las op inwoners en ondernemings wat reeds onder hoë lewenskoste gebuk gaan.

Die voorgestelde verhoging is ver bo die inflasiekoers en sal veral huishoudings swaar tref. Armer gemeenskappe sal gedwing word om kragverbruik te verminder of na onveilige alternatiewe oor te skakel.

Die plaaslike ekonomie sal ook ernstig benadeel word met stygende bedryfskostes. Werkskepping sal bedreig word en dit sal ondernemings se volhoubaarheid ondermyn.

Boonop verhoog hoë tariewe die risiko van wanbetaling en kragdiefstal, wat die munisipale netwerk verder destabiliseer en uiteindelik almal se dienslewering skaad.

Terwyl belastingbetalers gedwing word om meer te betaal, skuld staatsinstellings steeds honderde miljoene rand aan die munisipaliteit sonder dat daar daadwerklike stappe geneem word om hierdie skuld in te vorder.

Terselfdertyd word buitensporige oortydbetalings van gemiddeld R18,6 miljoen per maand in sekere departemente uitbetaal – ’n duidelike teken van swak kostebestuur.

Versoeke vir meter-oudits word ook eenvoudig geïgnoreer wat wantroue voed en die indruk skep dat die munisipaliteit nie wil hê dat potensiële foute of onreëlmatighede aan die lig kom nie.

Die VF Plus eis dat die munisipaliteit eers sy eie huis in orde bring, finansiële bestuur regstel, uitstaande staatskuld invorder en onnodige en buitensporige uitgawes besnoei voordat enige tariefverhoging oorweeg word.

Inwoners van Mbombela verdien ’n munisipaliteit wat verantwoordelik bestuur word en wat sy eie mislukkings oplos, nie een wat dit op die belastingbetaler afskuif nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.