Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, se uitsprake oor moedertaal-onderrig is baie bemoedigend, en is een ligpunt op ‘n andersins donker onderwyshorison, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor basiese onderwys.
Volgens adv. Alberts het die minister die uitlatings in die parlement gemaak in reaksie op sy toespraak in die begrotingsdebat oor basiese onderwys waarin hy gevra het vir die bevordering van moedertaal-onderrig en die beskerming van Afrikaanse skole wat gedwing word om anderstaliges in te neem.
“Die minister het gereageer deur te sê haar departement het geen beleid om Afrikaans te teiken vir afskaling nie en dat moedertaal-onderrig ‘belangrik’ is.
Adv. Alberts het gister in ‘n verklaring gesê basiese onderwys is tans so swak dat diegene wat uit daardie stelsel kom, veral arm swart jeugdiges, beskou word as onaanstelbaar, behalwe waar hulle vir ongeskoolde arbeid gebruik kan word.
Hy het gesê ‘n eerste stap in die regstel hiervan moet die verskerpte inwerkingstelling van moedertaal-onderrig wees, ten tweede moet meer klem op wiskunde en wetenskap gelê word en derdens moet slaagvereistes verhoog word.
“Dit is werklik verblydend om te hoor dat die minister wel die belangrikheid van moedertaal-onderrig insien en haar verbind tot die bevordering daarvan.
“Die VF Plus sal gewis die onderwyssituasie in die land fyn dophou en die minister kan daarvan seker wees dat ons haar by haar goeie ondernemings en voornemens sal hou,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403