“Ons verskil oor baie sake in hierdie raad maar oor infrastruktuur behoort ons nie te verskil nie, want sonder infrastruktuurontwikkeling sal Suid-Afrika nie ekonomiese groei ervaar nie,” het dr. Pieter Mulder, die Vryheidsfront Plus-leier in die parlement gedurende die eerste lesingsdebat oor die Konsepwet oor Infrastruktuurontwikkeling gesê.
Indien ons krities is oor projekte is dit gebaseer op ons ervaring van die afgelope 19 jaar waarvan beste planne wat in hierdie raad en kabinet bespreek is nie prakties op die grond neergesit kon word nie. Baie infrastruktuur-ontwikkelingsplanne het verlore geraak langs die pad weens staatsdiens-rondslomp en staatsdepartemente wat nie saam kan werk en nie met mekaar kon koördineer nie.
“Die Konsepwet op Infrastruktuurontwikkeling probeer juis die probleme oorbrug en ons sal dit daarom ondersteun. Enige besonderhede van die konsepwet wat onduidelik is en enkele probleme wat ons tans voorsien sal ons in die komitees en debatte in die parlement kan uittrap,” sê dr. Mulder.
Gedurende die voorbereiding vir die Sokker Wêreldbekertoernooi het Suid-Afrika die nodige infrastruktuur en wêreldklas stadions gebou en het ons toe gewys waartoe ons in staat is. Wat bygedra het tot hierdie sukses was dat ons teen spertye gewerk het en dat die regering beperkende maatreëls opgehef het om ons doelwitte te bereik. Dit mag nodig wees om dieselfde nou te doen om te verseker dat ons suksesvol is met ons infrastruktuurprojekte.
“Suid-Afrika word tans nog erken as Afrika se ekonomiese reus. Ons ekonomie is twee keer sterker as Nigerië se ekonomie en drie keer sterker as Egipte se ekonomie, maar daar is projeksies dat Nigerië se ekonomie Suid-Afrika binnekort gaan verbysteek. Indien dit gaan gebeur sal ons die ANC daarvoor blameer,” het dr. Mulder bygevoeg.