Die uitspraak van Marius Fransman dat Robert McBride 'n held, patriot en toegewyde openbare dienaar is, is 'n vooruitskouing van wat kiesers en inwoners van dié provinsie onder ‘n ANC-beheerde Wes-Kaapse regering na 2014 kan verwag, sê dr. Corné Mulder, parlementslid en leier van die Vryheidsfront Plus in die Wes-Kaap.
Alle aanduidings is dat Fransman die ANC se premierskandidaat vir die 2014-verkiesing in die Wes-Kaap is.
McBride het berugtheid verwerf vir sy aandeel in die Magoo’s Bar-bomaanval in Durban in 1986 waarin drie vroue gedood en 69 mense beseer is. Hy het aangevoer dat hy die aanval in opdrag van die ANC uitgevoer het.
Hy is ter dood veroordeel, maar het later by die WVK-proses amnestie gekry.
Later word hy as hooggeplaaste amptenaar van die departement van buitelandse sake, in Mosambiek weens beweerde wapensmokkelary in hegtenis geneem. Hy beweer dat hy met die Nasionale Intelligensie-agentskap (NIA) saamgewerk het.
Na ‘n ongeluk in Desember 2006, word McBride skuldig bevind aan dronkbestuur en regsverydeling nadat sy ampsmotor naby Centurion gerol het. Hy was in daardie stadium hoof van die Ekurhuleni-metropolisie. Hy word op appèl vrygespreek.
“Daarom is dit van wesentlike belang dat ANC uit die Wes-Kaap se regering gehou moet word. Die VF Plus het hom reeds met die komende 2014-verkiesing daartoe verbind. Ons sal voortgaan om saam met ander partye die ANC uit die regering van die Wes-Kaap te hou,” sê dr. Mulder.
Kontaknommers: 083 626 1497 / 083 419 5403